Die Inspirasie van die Bybel

In vandag se wêreld, word die Bybel deur almal aangeval.  Die Hoër Chritici beweer die Bybel en sy stories is sprokies verhale, nie Christene sê dit is nonsens en ons kerke vandag begin al sê (somige kerke het nog al die tyd hierdie houding gehad) dat die normale mens op straat en die normale lid van n kerk, nie die Bybel vir homself kan lees en verstaan nie. Blykbaar is dit net die geleerde (priesters, predikante, ens.) mense wat die Bybel vir ons kan uitlê.

Die vraag wat nou ontstaan: "Is dit waar, kan enige iemand die Bybel lees en dit verstaan, of moet ons almal predikante word om die Bybel te kan lees? Is dit wat die Here bedoel het met die Bybel? Was dit hoekom so baie mense gesterf het omdat hulle die Bybel in die alledaagse taal vertaal het?

In hierdie artikel wil ons kyk na wat die Bybel vir homself spreek.

1. Hoe is die Bybel geskryf?

2 Pet 1:21 "want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek"

U sien, die Heilige Gees het mense geinspireer en onder Heilige inspirasie het hulle dan die woord (Bybel) neergeskryf.

2. Die hele Bybel is deur God geinspireer!

2 Tim 3:16 "Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid"

Ja, die hele Bybel is deur God geinspireer en dit is die boek waaruit ons geleer word wie God is, waarvan Hy hou, en wat Hy wil hê ons moet doen. Die Bybel is die brom waaruit ons leer wat reg en verkeerd is en wat ons leer van geregtigheid, met ander woorde, hoe ons gered kan word. Dus, as ons die Bybel verwerp, dan verwerp ons ook God se redding.

3. Die Bybel gee hoop!

Rom 15:4 "Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê"

 Die Bybel is nie n boek wat verdoem nie, maar eerder is dit n liefdes brief van God wat ons hoop gee, wat ons vertel van n toekoms sonder pyn en leiding, armoede, en geweld. Dit verduidelik aan ons hoe ons daardie lewe kan kry en so skep dit hoop vir die wat glo.

4. Die Bybel leer ons van ons redding!

2 Tim 3:15 "en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus"

 Dit is deur die Bybel te bestudeer dat ons van redding deur geloof in Jesus Christus leer.

Joh 5:39 "Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig"

Dit is baie interesant dat Jesus hier spesifiek van die Ou Testament praat. Jesus getuig dat die Ou Testament van Hom en van die ewige lewe getuig en tog wil so baie Christene die Ou Testament weggooi en beweer hulle dat dit nie meer op ons van toepassing is in vandag se lewe nie. Miskien moet ons vra: Wat gooi ons weg as ons nie meer ag slaan op die Ou Testament nie? Verloor ons dalk iets uiters belangrik vir ons redding?

Joh 20:31 "maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam"

Die Bybel as geheel (in besonders die boek Johannes) is geskryf sodat ons Jesus en God kan leer ken en sodoende gered kan word.

5. Die Bybel is daar as ons waarskuwing en dien as n getuienis!

1 Kor 10:11 "Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ’n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het"

Die lewens, opgeskryf in die Bybel, dien as getuienis vir ons wat vandag lewe. Dit is daar om ons te vertel van die genade van God, maar ook as waarskuwing vir die wat nie ag wil gee aan die roepstem van die Here nie. Vir die wat die genade aanvaar en bekeer wag daar die ewige lewe, maar vir hulle wat dit nie wil aanvaar nie, wag daar verderf en vernietiging. 

6. Ons moet die Bybel reg bestudeer!

Matt 22:29 "Toe antwoord Jesus en sê vir hulle:Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie"

Die is moontlik om n verkeerde verstaan van die Bybel of God te hê as ons nie die Skrifte reg bestudeer nie. Soos die Fariseers n wan begrip van die Here en Sy reddings werk gehad het, kan ons ook verkeerd gaan wanneer ons in die Bybel in lees wat ons graag wil hoor of wil hê die boodskap vir ons moet bewys. As dit ons uitgangs punt is, dan is ons al klaar op die verkeerde pad. Die Bybel moet homself verklaar, met ander woorde, as ons iets nie verstaan nie, gaan soek iewers anders in die Bybel vir n verklaring voordat ons net n betekenis aanvaar as reg.

2 Tim 2:15 "Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ’n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny"

Hier is die klem nog op die feit dat ons die Bybel reg moet benader, dat God die betekenis vir ons moet gee en nie ons nie.

1 Kor 2:14 "Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word"

Wanneer ons die Bybel wil lees en verstaan, dan moet ons die Here vra vir die Heilige Gees om vir ons die Skrifte oop te sluit. Soos vroeër gesien, is die Bybel deur die Heilige Gees geinspireer en het ons dus Sy hulp nodig om dit te verstaan. Ons moet altyd biddend die Bybel lees sodat ons nie mislei word nie. In Joh 3 kry ons dieselfde idee wanneer Nikodemus na Jesus toe kom om oor geestelike dinge te praat. Jesus se antwoord aan hom was dat hy (ons) die Heilige Gees nodig het om geestelike dinge te verstaan. So, vra vir die Heilige Gees en God sal Hom stuur om u te help om die Bybel te verstaan.

Joh 16:13 "Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig"

Deel van die Heilige Gees se werk is om ons in die waarheid te lei, om die woord van God vir ons verstaanbaar te maak en om dit vir ons uit te lê.

Joh 17:17 "Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid"

Volgens Jesus is die Bybel waarheid, die woord van God. Ons kan dit glo en ons moet dit bestudeer om die waarheid te kry en te verstaan.

Joh 8:32 "En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak"

Jesus is die volle waarheid, maar sy woord en God se woord is ook waarheid en deur die waarheid te ken, kan ons en sal ons vry gemaak word. Die Bybel getuig van God se liefde vir ons, maar ook van n oordeel wat aan kom is. As ons die waarheid bestudeer, nl. die Bybel, sal ons eerstens die Here leer ken en tweedens, sal ons gewys word wat reg en verkeerd is en sodoende kan ons nie mislei word nie.

Ps 119:105 "U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad"

In die donker het ons n lig nodig, so ook in ons geestelike wandel. Ons het die Lig van God nodig en daai lig is die woord van God, Die Bybel.

Joh 7:17 "As iemand gewillig is om sy wil te doen, sal hy aangaande die leer weet of dit uit God is, en of Ek uit Myself spreek"

Hulle wie gewillig is om die Here te volg, sal deur die Here gelei word en sal n groot seën ontvang, want hulle sal God in en deur die Bybel leer ken en oortuig wees van die waarheid.

Hand 17:11 "En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was"

So wat moet ons doen om elke dag geseën te word. Ons moet elke dag die Bybel bestudeer om God beter te leer ken. Om oortuig te word van die waarheid en ons moet toelaat dat ons deur die Bybel tereg gewys kan word sodat ons van ons verkeerde weë terug gelei kan word na die woord van God

Ja vriende, die Bybel is nie n boek wat ons verdoem nie. Dit is n liefdes brief van n ouer aan sy kind wat hom vertel van sy liefde vir die kind, maar ook waarsku teen die verkeerde. Daar is gevolge wat volg as ons nie gehoor gee aan die roepstem van die Here nie, maar daar is vrede en vryheid en n ewige lewe saam met God as ons Sy stem gehoorsaam. Sal u as ouer u klein kind met n baie skerp mes of swaard laat speel of u tiener met n vuurwapen of n giftige slang laat speel en hom nie waarsku nie. Ek glo nie. Hoekom wil ons dan nie na die waarskuwing van n liefdevolle Vader luister nie. Die Here is lief vir u en my en Hy wil ons graag red. Daarom moet ons die Bybel bestudeer en aanvaar as die Woord van God wat ons wil onderrig en lei. 

PS. Lees gerus die artikel Die Bybel: Ons stigting vir bewyse wat die betroubaarheid van die Bybel staaf.

Teken In

April   2024
S M D W D V S
  1 2 3 4 5 6
7 8 9 10 11 12 13
14 15 16 17 18 19 20
21 22 23 24 25 26 27
28 29 30